RUGBY 2020

Hello mense

Hoe gaan dit met julle? Het Eskom, die swak rand of die misdaad julle nog nie onder gekry nie? Ek hoor ons is nou in ʼn resessie.

Is julle bang vir die koronavirus? Ek is nogal skrikkerig. Hy is nou besig om reg oor die aardbol versprei te raak. Nugter alleen weet waar hy volgende gaan uitslaan.

Kom ons praat oor iets lekkerder. Rugby!

Ek moet sê ek was maar taamlik benoud aan die begin van die jaar. Ek was bang dat al die harde werk wat oom Rassie en die Springbokke laas jaar verrig het verniet was.

Ek dink egter nou ek het my verniet bekommer. Oom Rassie het die leisels stewig as SA Rugby se Direkteur van Rugby vasgevat. Nie net het hy ʼn puik aanstelling gemaak toe hy Jacques Nienaber met wie hy al goed saamgewerk het as afrigter bekendgestel het nie, meeste van die bestuurspan bly dieselfde nie.

Behalwe ou Matt Proudfoot wat na Eddie Jones-hulle toe verkas het as voorspelerafrigter. Deon Davids en Daan Human behoort hul man te staan.

Ek is opgewonde vir die jaar wat vir ons wag. Die Sharks en storm het hierdie Superseisoen kookwaterrugby opgelewer. Die Bulle en die Leeus moet bietjie aan die gang kom anders gaan hulle agter raak.

Daar moet ook bietjie ingegryp word by die Pr014-spanne. Ek dink oom Rassie moet ook bietjie daar gaan ingryp, veral by die Kings. Die Cheetahs moet bietjie diepte kry.

Ek is bly die keurders besef nou hul beste spelers is oorsee en kies hul dan vir die span. Ek is bly SARU lok groot name terug na ons land toe. Ek hoor Duane Vermeulen kom terug Bulls toe en Frans Steyn gaan saam met Ruan Pienaar vir die Cheetahs speel. Daar is selfs gerugte dat Jesse Kriel en Marcell Coetzee terugkom om in die Bulkraal te wei. Ek hoop dis waar.

Volgens my bronne kry 92 spelers ʼn deel van SARU se salaris-begroting as lokaas om in die land te bly.

Ek was bekommerd toe Franse-klubs belowende jong spelers opgeraap het voor ons neuse, maar nou lyk dit hulle kan nog steeds vir die Baba Bokke in aanmerking kom.

By die sewes gaan dit voor die wind. Ek dink egter SARU kan die vroue sewesspan bietjie verder ontwikkel en behulpsaam wees. Met ons goeie sewesstrukture is hul veronderstel om ook ʼn krag in vrouerugby te wees.

Ons land het baie talent. Kyk na die wonderlike rugby wat in die Varsity-beker en Varsity-shield gespeel word en al die pragtige drieё wat gedruk word.

Dit is ook ‘great’ dat SARU vanjaar meer in klubrugby gaan belê, want unies gaan meer op klubs moet staatmaak, want niemand kan meer hordes spelers kontrakteer nie. Self in Engeland word begrotings verminder.

Ek hoop die Supersport-uitdaagbeker kan nog vir jare voortgaan. Dit gee vir onbekende spelers kans om te ‘shine’. Maak nie saak wat gebeur nie, die Currie-beker moet jaarliks gespeel word. Dit is ʼn saak van eer.

Die Sesnasies het net lekker aan die gang begin kom met Les Bleus (Frankryk) se opmars na die titel na hulle skouspelagtige rugby gespeel het en die beroemde Franse ‘Flair’ hul heelbo op die ranglys gesit.Tot die koronavirus ʼn klip in hul pad gerol het en gesorg dat ʼn paar wedstryde uitgestel word om te keer dat die virus versprei.

Die res van die jaar wag en ek sien uit daarna uit om te kyk wat gebeur.

Totsiens

 

Published by Tief

Ek blog oor dinge wat vir my interessant is en wat my aandag trek...

Leave a comment

Design a site like this with WordPress.com
Get started